Afrikaans 1983

Numeri 6:9-15 Afrikaans 1983 (AFR83)

9. Maar as hy hom verontreinig deur aan iemand te raak wat onverwags in sy omgewing te sterwe kom, moet hy sy hare afskeer op die dag waarop hy rein verklaar word; op die sewende dag moet hy sy hare afskeer.

10. Op die agste dag moet hy twee tortelduiwe of twee ander duiwe na die priester toe bring, by die ingang van die tent van ontmoeting.

11. Die priester moet dan een duif as 'n sondeoffer en die ander as 'n brandoffer voorberei, en daarmee vir die nasireër versoening doen vir die oortreding wat hy onbewus begaan het deur aan die lyk te raak. Op dieselfde dag moet hy begin om sy hare te laat groei.

12. Hy moet hom opnuut as nasireër aan die Here wy en 'n jaaroud lam as skuldoffer bring. Die vorige dae moet nie gereken word nie, omdat hy sy nasireërskap verontreinig het.

13. “Die voorskrif vir die nasireër wanneer die tyd van sy wyding verby is, is soos volg: Hy moet na die ingang van die tent van ontmoeting toe gaan

14. en sy offergawe aan die Here bring. Dit moet bestaan uit 'n jaaroud lam as brandoffer, 'n jaaroud ooilam as sondeoffer en 'n ram as maaltydoffer, aldrie sonder liggaamsgebrek;

15. verder 'n mandjie ongesuurde brood van fynmeel, ringbrood met olie geknie, en ongesuurde roosterkoek met olie gesmeer, met die bybehorende graanoffer en drankoffers.