Afrikaans 1983

Numeri 6:11-18 Afrikaans 1983 (AFR83)

11. Die priester moet dan een duif as 'n sondeoffer en die ander as 'n brandoffer voorberei, en daarmee vir die nasireër versoening doen vir die oortreding wat hy onbewus begaan het deur aan die lyk te raak. Op dieselfde dag moet hy begin om sy hare te laat groei.

12. Hy moet hom opnuut as nasireër aan die Here wy en 'n jaaroud lam as skuldoffer bring. Die vorige dae moet nie gereken word nie, omdat hy sy nasireërskap verontreinig het.

13. “Die voorskrif vir die nasireër wanneer die tyd van sy wyding verby is, is soos volg: Hy moet na die ingang van die tent van ontmoeting toe gaan

14. en sy offergawe aan die Here bring. Dit moet bestaan uit 'n jaaroud lam as brandoffer, 'n jaaroud ooilam as sondeoffer en 'n ram as maaltydoffer, aldrie sonder liggaamsgebrek;

15. verder 'n mandjie ongesuurde brood van fynmeel, ringbrood met olie geknie, en ongesuurde roosterkoek met olie gesmeer, met die bybehorende graanoffer en drankoffers.

16. Die priester moet die lammers aan die Here offer as die nasireër se sondeoffer en brandoffer.

17. Die priester moet die ram, saam met die ongesuurde brood in die mandjie, as maaltydoffer vir die Here aanbied, en ook die nasireër se graan- en drankoffer offer.

18. By die ingang van die tent van ontmoeting moet die nasireër sy hare, die teken van sy wyding, afskeer en dit vat en in die vuur saam met die maaltydoffer verbrand.