Afrikaans 1983

Numeri 5:7-12-15 Afrikaans 1983 (AFR83)

7. en moet hy sy sonde bely. Hy moet die volle bedrag van die skade plus 'n vyfde daarvan teruggee aan die persoon wat hy benadeel het.

8. As die benadeelde na sy dood geen familielid het aan wie die skuld betaal kan word nie, kom die bedrag die Here toe en moet dit aan 'n priester gegee word. Afgesien hiervan moet die skuldige nog die ram voorsien waarmee die priester vir die skuldige versoening moet doen.”

9. “Die offergawes wat die Israeliete na die priester toe bring vir die diens van die Here, behoort aan die priester.

10. Die gewyde gawes wat iemand bring, bly sy eie, maar wat die priester toekom, moet aan hom gegee word.”

11. Die Here het aan Moses opdrag gegee

12-15. om vir die Israeliete te sê: “As 'n man agterdogtig word, sodat hy sy vrou van ontrou verdink, moet hy haar na die priester toe bring. Dit kan wees dat die getroude vrou ontrou teenoor haar man was en met iemand anders geslagsgemeenskap gehad het sonder dat haar man daarvan weet of dat sy uitgevind is. Dit kan ook wees dat, hoewel sy oortree het, daar geen getuie teen haar is nie en sy nie betrap is nie. Dit kan ook wees dat die man agterdogtig is en sy vrou verdink hoewel sy niks verkeerds gedoen het nie. Die man moet sy vrou na die priester toe bring saam met die voorgeskrewe offer: een en 'n half kilogram garsmeel. Hy moet die meel nie met olie en wierook meng nie, omdat die offer bedoel is vir 'n geval van agterdog, 'n offer wat moet aantoon of daar oortree is.