Afrikaans 1983

Numeri 22:7-20 Afrikaans 1983 (AFR83)

7. Die leiers van Moab en Midian het die beloning wat aan 'n waarsêer betaal moet word, saamgevat na Bileam toe en Balak se versoek aan hom oorgedra.

8. Bileam sê toe vir hulle: “Bly vannag oor, dan sê ek môre vir julle wat die Here vir my sal sê.”Die amptenare van Moab het toe by Bileam oornag.

9. God het aan Bileam verskyn en gevra: “Wie is die manne hier by jou?”

10. en hy het geantwoord: “Koning Balak van Moab, seun van Sippor, het hulle na my toe gestuur met die boodskap:

11. Hier is 'n volk wat uit Egipte getrek het, en die aarde is tóé onder hulle. Kom asseblief en vervloek hulle vir my. Miskien sal ek dan teen hulle kan veg en hulle verdryf!”

12. Maar God het vir Bileam gesê: “Moenie met hulle saamgaan nie. Jy mag dié volk nie vervloek nie, want hulle is geseën.”

13. Die volgende môre het Bileam vir die amptenare van Balak gesê: “Gaan terug na julle land toe, want die Here wil nie hê ek moet saam met julle gaan nie.”

14. Die amptenare van Moab is toe terug na Balak toe en het vir hom gesê: “Bileam weier om met ons saam te kom.”

15. Balak het toe ander amptenare gestuur, méér en hoër in rang as die voriges.

16. Hulle het by Bileam gekom en vir hom gesê: “Balak seun van Sippor sê: Moenie dat iets jou keer om na my toe te kom nie.

17. Ek sal jou baie goed beloon en alles doen wat jy vir my sê. Kom asseblief en vervloek hierdie volk vir my.”

18. Maar Bileam het vir die amptenare van Balak gesê: “Selfs al gee Balak vir my sy paleis vol silwer en goud, mag ek niks doen, klein of groot, teen die opdrag van die Here my God in nie.

19. Maar bly julle ook 'n nag oor dat ek kan uitvind of die Here weer met my wil praat.”

20. Daardie nag verskyn God toe aan Bileam en sê vir hom: “Die manne het nou gekom om jou te kom haal. Gaan saam met hulle, maar jy mag net doen wat Ek vir jou sê.”