Afrikaans 1983

Numeri 22:31-41 Afrikaans 1983 (AFR83)

31. Die Here het Bileam se oë oopgemaak en hy het die Engel van die Here in die pad sien staan met 'n ontblote swaard in die hand. Toe buig Bileam voor die Engel.

32. Die Engel van die Here vra hom toe: “Waarom het jy jou donkie nou al drie keer geslaan? Ek het jou kom voorstaan, want Ek sien jy is op 'n gevaarlike pad.

33. Die donkie het My gesien en drie keer vir My uitgedraai. As hy dit nie gedoen het nie, het Ek jou al doodgemaak en hom laat leef.”

34. Bileam sê toe vir die Engel van die Here: “Ek was verkeerd, ek het nie geweet dat U my in die pad voorstaan nie. As U nie wil hê ek moet voortgaan nie, draai ek om.”

35. Toe sê die Engel van die Here vir Bileam: “Gaan saam met die manne, maar jy moet net sê wat Ek vir jou sê.”Bileam is toe saam met Balak se amptenare.

36. Toe Balak hoor dat Bileam aan die kom is, het hy hom tegemoet gegaan by Ar-Moab aan die oewer van die Arnon, op die grens.

37. Balak vra toe vir Bileam: “Ek het jou dringend laat roep, en waarom het jy toe nie na my toe gekom nie? Dink jy ek kan jou nie goed betaal nie?”

38. Bileam het vir Balak geantwoord: “Ek het mos nou gekom. Maar laat ek net dit sê: Ek kan net sê wat God vir my voorsê.”

39. Bileam is toe saam met Balak, en hulle het by Kirjat-Gusot aangekom.

40. Balak het beeste en skape geslag en dit vir Bileam en die amptenare wat saam met hom was, laat bring.

41. Die volgende môre het Balak vir Bileam teen Bamot-Baäl laat uitklim. Daarvandaan kon Bileam die volk Israel van die kant af sien.