Afrikaans 1983

Lukas 8:48-56 Afrikaans 1983 (AFR83)

48. Toe sê Hy: “Dogter, jou geloof het jou gered. Gaan in vrede!”

49. Terwyl Hy nog praat, kom daar iemand van die raadslid van die sinagoge se huis af om te sê: “U dogter is al dood. Moenie nog ons Leermeester lastig val nie.”

50. Maar Jesus het dit gehoor en sê vir hom: “Moet jou nie ontstel nie. Glo net, en sy sal gered word.”

51. Toe Jesus by die huis kom, het Hy niemand toegelaat om saam met Hom in te gaan nie, behalwe Petrus, Johannes en Jakobus, en die kind se pa en ma.

52. Die mense daar het almal gehuil en oor haar rou bedryf. Maar Jesus sê: “Moenie huil nie, want sy is nie dood nie, sy slaap net.”

53. Hulle het Hom uitgelag, want hulle was seker dat sy dood is.

54. Maar Jesus het haar hand gevat en uitgeroep: “Dogtertjie, staan op!”

55. Haar lewe het teruggekom, en sy het onmiddellik opgestaan. Toe gee Jesus opdrag dat hulle vir haar iets te ete moet gee.

56. Haar ouers was stom van verbasing, en Jesus het hulle verbied om vir iemand te vertel wat gebeur het.