Afrikaans 1983

Lukas 7:7-22 Afrikaans 1983 (AFR83)

7. Daarom het ek my ook nie waardig geag om self na U toe te gaan nie. Sê maar net 'n woord, en my slaaf is gesond.

8. Ek is self 'n man wat onder gesag gestel is en ek het soldate onder my. Vir een sê ek: ‘Gaan daarheen!’ en hy gaan; en vir 'n ander: ‘Kom!’ en hy kom. Vir my slaaf sê ek: ‘Doen dit!’ en hy doen dit.”

9. Jesus was verwonderd toe Hy dit hoor. Hy draai toe om na die mense wat agter Hom aangekom het en sê: “Ek sê vir julle: In Israel het Ek nie so 'n groot geloof teëgekom nie.”

10. En toe die mense wat gestuur was, weer by die huis kom, kry hulle die slaaf daar heeltemal gesond.

11. Kort daarna het Jesus na 'n dorp met die naam Nain gegaan,

12. en sy dissipels en 'n hele menigte mense is saam met Hom. Toe Hy naby die ingang van die dorp kom, word daar juis 'n dooie uitgedra om begrawe te word. Hy was die enigste seun van sy ma, en sy was 'n weduwee. Byna die hele dorp se mense was saam met haar.

13. Toe die Here haar sien, het Hy haar innig jammer gekry en vir haar gesê: “Moenie huil nie!”

14. Hy gaan toe nader en vat aan die baar. Die draers gaan staan toe, en Hy sê: “Jongman, Ek sê vir jou, staan op!”

15. Die dooie het regop gaan sit en begin praat. En Jesus het hom aan sy ma teruggegee.

16. Almal is met ontsag vervul en het God geprys deur te sê: “'n Groot profeet het onder ons opgestaan,” en “God het na sy volk omgesien.”

17. Die berig oor wat Hy gedoen het, het deur die hele Joodse land en die omliggende gebied versprei.

18. Die volgelinge van Johannes het hom van al hierdie dinge vertel. Hy laat toe twee van sy volgelinge roep

19. en stuur hulle na die Here toe om te vra: “Is U die Een wat sou kom, of moet ons 'n ander een verwag?”

20. Toe die manne by Hom kom, sê hulle: “Johannes die Doper het ons na U toe gestuur om te vra: Is U die Een wat sou kom, of moet ons 'n ander een verwag?”

21. Op daardie oomblik het Jesus juis baie mense gesond gemaak van siektes en kwale en bose geeste, en baie blindes het Hy laat sien.

22. Sy antwoord aan die boodskappers was: “Gaan vertel vir Johannes wat julle gesien en gehoor het: blindes sien, lammes loop, melaatses word gereinig, dowes hoor, dooies word opgewek, aan armes word die evangelie verkondig.