Afrikaans 1983

Lukas 24:42-53 Afrikaans 1983 (AFR83)

42. Hulle gee Hom toe 'n stuk gebakte vis.

43. Hy het dit gevat en voor hulle oë geëet.

44. Daarna sê Hy vir hulle: “Dit is die betekenis van die woorde wat Ek vir julle gesê het toe Ek nog by julle was, naamlik dat alles vervul moet word wat in die wet van Moses en in die profete en psalms oor My geskrywe is.”

45. Toe open Hy hulle verstand om die Skrif te verstaan.

46. Verder sê Hy vir hulle: “So staan daar geskrywe: ‘Die Christus moet ly en op die derde dag uit die dood opstaan,

47. en in sy Naam moet bekering en vergewing van sondes aan al die nasies verkondig word, van Jerusalem af en verder.’

48. Julle is getuies van hierdie dinge.

49. En Ek sal die gawe wat my Vader beloof het, vir julle stuur. Maar julle moet in die stad bly totdat julle met krag van bo toegerus is.”

50. Daarna het Hy hulle uit die stad uitgelei tot by Betanië. Daar het Hy sy hande opgehef en hulle geseën.

51. Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan en is Hy in die hemel opgeneem.

52. Hulle het Hom aanbid en met groot blydskap na Jerusalem toe teruggegaan.

53. Daar het hulle die hele tyd by die tempel gebly en God geprys.