Afrikaans 1983

Lukas 23:36-52 Afrikaans 1983 (AFR83)

36. Ook die soldate het vorentoe gekom en Hom bespot. Hulle het vir Hom suur wyn aangebied

37. en gesê: “As jy die koning van die Jode is, red jouself.”

38. Daar was ook 'n opskrif bokant Hom: “Dit is die koning van die Jode.”

39. Een van die misdadigers wat daar gehang het, het Hom gelaster deur te sê: “Is jy dan nie die Christus nie? Red jouself en ons ook!”

40. Maar die ander een het hom tereggewys en gesê: “Is jy nie bang vir God nie? Jy ondergaan tog dieselfde straf as hierdie man!

41. In ons geval is dit regverdig, want ons ontvang die verdiende straf vir ons dade. Maar hierdie man het niks verkeerds gedoen nie.”

42. Verder sê hy: “Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom.”

43. Jesus antwoord hom: “Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.”

44. Dit was al omtrent twaalfuur, toe kom daar duisternis oor die hele land, en dit het tot drie-uur geduur;

45. die son het opgehou om te skyn. Die voorhangsel in die tempel het middeldeur geskeur.

46. Jesus het hard uitgeroep: “Vader, in u hande gee Ek my gees oor.”Na hierdie woorde het Hy die laaste asem uitgeblaas.

47. Toe die offisier sien wat gebeur het, het hy God geprys en gesê: “Hierdie man was werklik onskuldig.”

48. Al die mense wat saamgedrom het om na die skouspel te kyk en gesien het wat daar gebeur het, het verslae huis toe gegaan.

49. Maar al Jesus se vriende, ook die vroue wat Hom van Galilea af gevolg het, het op 'n afstand bly staan. Hulle het al hierdie dinge gesien.

50-51. Daar was 'n man met die naam Josef, afkomstig van 'n Joodse dorpie Arimatea. Hy was 'n goeie en opregte man en het die koms van die koninkryk van God verwag. Hoewel hy lid van die Joodse Raad was, het hy nie met hulle besluit en optrede saamgestem nie.

52. Hierdie man het na Pilatus toe gegaan en die liggaam van Jesus gevra.