Afrikaans 1983

Lukas 23:27-37 Afrikaans 1983 (AFR83)

27. 'n Groot menigte van die volk het agter Jesus aan geloop, onder wie ook vroue wat oor Hom getreur en gehuil het.

28. Maar Jesus het na hulle toe omgedraai en gesê: “Vroue van Jerusalem, moenie oor My huil nie, huil oor julleself en julle kinders,

29. want daar kom dae waarin hulle sal sê: ‘Hoe gelukkig is die onvrugbare vroue en dié wat nooit 'n kind in die wêreld gebring het of gevoed het nie.’

30. “Dan sal hulle vir die berge sê:‘Val op ons!’en vir die heuwels:‘Bedek ons!’

31. “As hulle dit met die groen hout doen, wat sal dan met die droë hout gebeur?”

32. Daar is ook twee ander, albei misdadigers, weggelei om saam met Jesus tereggestel te word.

33. Toe hulle by die plek kom wat Kopbeen genoem word, het hulle Hom daar saam met die misdadigers gekruisig, die een aan sy regter- en die ander een aan sy linkerkant.

34. Toe sê Jesus: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!”Hulle het sy klere verdeel deur te loot.

35. Die volk het daar gestaan en kyk. Hulle raadslede het Hom ook uitgelag en gesê: “Ander het hy gered. Laat hy homself red as hy die Christus is wat deur God uitverkies is.”

36. Ook die soldate het vorentoe gekom en Hom bespot. Hulle het vir Hom suur wyn aangebied

37. en gesê: “As jy die koning van die Jode is, red jouself.”