Afrikaans 1983

Lukas 23:1-8 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Daarna het die hele vergadering opgestaan en Jesus na Pilatus toe gebring.

2. Daar het hulle die aanklag teen Hom begin deur te sê: “Ons het bevind dat hierdie man ons volk ophits: hy belet hulle om aan die keiser belasting te betaal en beweer dat hy die Christus, die koning, is.”

3. Pilatus vra Hom toe: “Is jy die koning van die Jode?”Hy antwoord hom: “Dit is soos u sê.”

4. Daarop sê Pilatus vir die priesterhoofde en die skare: “Ek vind geen skuld in hierdie man nie.”

5. Maar hulle het sterker aangedring en gesê: “Die hele Joodse land deur stook hy die volk op met sy leer. Hy het van Galilea af begin en tot hier daarmee gekom.”

6. Toe Pilatus dit hoor, vra hy of die man dan 'n Galileër is.

7. Nadat hy te wete gekom het dat Jesus uit die magsgebied van Herodes afkomstig was, het hy Hom na Herodes toe gestuur, wat juis in daardie tyd self in Jerusalem was.

8. Herodes was baie bly om Jesus te sien. Omdat hy soveel van Hom gehoor het, het hy al 'n geruime tyd die begeerte gehad om Hom te sien. Hy het ook gehoop om Hom een of ander wonderwerk te sien doen.