Afrikaans 1983

Lukas 22:40-48 Afrikaans 1983 (AFR83)

40. Toe Hy op die plek aankom, sê Hy vir hulle: “Bid dat julle nie in versoeking kom nie.”

41. Hy het Hom toe van hulle afgesonder omtrent so ver as 'n mens met 'n klip kan gooi. Daar het Hy gekniel en gebid:

42. “Vader, as U wil, neem tog hierdie lydensbeker van My af weg. Laat nogtans nie my wil nie maar u wil geskied!”

43. 'n Engel uit die hemel het aan Hom verskyn en Hom versterk.

44. Hy het in doodsangs geraak en het nog ernstiger gebid. Sy sweet het soos bloeddruppels geword wat op die grond val.

45. Toe Hy van die gebed opstaan en by die dissipels kom, kry Hy hulle aan die slaap, uitgeput van droefheid.

46. Hy sê toe vir hulle: “Waarom slaap julle? Staan op en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie.”

47. Terwyl Jesus nog praat, kom 'n klomp mense daar aan. Die een wat Judas genoem is, een van die twaalf, het hulle gelei en nader gekom na Jesus toe om Hom te soen.

48. Maar Jesus sê vir hom: “Judas, verraai jy die Seun van die mens met 'n soen?”