Afrikaans 1983

Lukas 22:1-12 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Die fees van die ongesuurde brood, wat pasga genoem word, was naby.

2. Die priesterhoofde en die skrifgeleerdes wou Jesus uit die weg ruim, maar omdat hulle bang was vir die volk, het hulle nog gesoek na 'n manier om dit te doen.

3. Die Satan het in Judas, wat Iskariot genoem is en een van die twaalf was, ingevaar.

4. Hy het toe met die priesterhoofde en die offisiere van die tempelwag gaan praat oor hoe hy Jesus in hulle hande kan laat kom.

5. Hulle was bly en het ooreengekom om hom daarvoor te betaal.

6. Hy het ingestem en na 'n geskikte geleentheid gesoek om Jesus te verraai waar die volk nie by is nie.

7. Die dag van die ongesuurde brood, waarop die paaslam geslag moes word, het aangebreek.

8. Jesus stuur toe vir Petrus en Johannes vooruit met die opdrag: “Gaan berei die paasmaaltyd vir ons voor dat ons dit kan eet.”

9. Hulle vra Hom: “Waar wil U hê moet ons dit voorberei?”

10. Toe antwoord Hy hulle: “Kyk, net soos julle die stad ingaan, sal 'n man wat 'n kruik water dra, julle ontmoet. Gaan saam met hom tot in die huis waar hy ingaan,

11. en sê vir die eienaar van die huis: ‘Ons Leermeester vra u: Waar is die kamer waar Ek met my dissipels die paasmaaltyd kan eet?’

12. En hy sal julle 'n groot bovertrek wys wat klaar daarvoor ingerig is. Daar moet julle dit voorberei.”