Afrikaans 1983

Lukas 21:1-13 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Jesus het rondgekyk en die rykes hulle gawes in die offergawekis sien gooi.

2. Hy sien toe ook 'n arm weduwee twee klein muntstukkies daar ingooi,

3. en Hy sê: “Dit verseker Ek julle: Hierdie arm weduwee het meer ingegooi as al die ander.

4. Hulle het almal iets uit hulle oorvloed in die offergawekis gegooi, maar sy het in haar gebrek alles ingegooi wat sy gehad het om van te lewe.”

5. Toe sommige oor die tempel praat, oor die pragtige klippe en gewyde geskenke waarmee dit versier was, sê Jesus:

6. “Alles wat julle sien — daar sal 'n tyd kom dat nie een klip op die ander gelaat sal word nie. Alles sal afgebreek word.”

7. Hulle vra Hom toe: “Here, wanneer sal hierdie dinge gebeur en wat is die teken van wanneer dit gaan plaasvind?”

8. Hy antwoord: “Pas op dat julle nie mislei word nie, want baie sal onder my Naam kom en sê: ‘Dit is ek!’ en: ‘Die tyd het aangebreek!’ Moenie agter hulle aanloop nie!

9. Wanneer julle hoor van oorloë en opstande, moenie beangs raak nie, want hierdie dinge moet eers plaasvind, maar dit is nog nie onmiddellik die einde nie.”

10. Verder sê Hy vir hulle: “Die een nasie sal teen die ander te staan kom en die een koninkryk teen die ander.

11. Daar sal groot aardbewings wees; hongersnode en epidemies sal op baie plekke voorkom. Daar sal skrikwekkende dinge wees en groot tekens van die hemel af.

12. “Maar nog voordat dit alles gebeur, sal hulle julle gevange neem en vervolg. Hulle sal julle oorlewer vir verhoor in die sinagoges en vir opsluiting in gevangenisse; hulle sal julle voor konings en goewerneurs bring ter wille van my Naam.

13. Dit sal vir julle 'n geleentheid wees om van My te getuig.