Afrikaans 1983

Lukas 20:25-40 Afrikaans 1983 (AFR83)

25. Toe sê Hy vir hulle: “Nou ja, gee dan aan die keiser wat aan die keiser behoort, en aan God wat aan God behoort.”

26. Hulle kon dit nie regkry om Hom voor die volk vas te trek op iets wat Hy gesê het nie. En verwonderd oor sy antwoord, het hulle maar stilgebly.

27. 'n Aantal Sadduseërs — dit is die mense wat ontken dat daar 'n opstanding uit die dood is — kom toe nader en vra vir Jesus:

28. “Meneer, Moses het vir ons voorgeskryf: As iemand 'n getroude broer het wat kinderloos sterwe, moet hy met sy broer se weduwee trou en vir sy broer kinders verwek.

29. Nou was daar sewe broers. Die oudste het getrou en kinderloos gesterwe.

30. Ook die tweede

31. en die derde het met die weduwee getrou en kinderloos gesterwe, en so het dit met al sewe gegaan.

32. Daarna het die vrou ook gesterwe.

33. Die vrou nou, wie se vrou word sy met die opstanding? Al sewe het haar mos as vrou gehad.”

34. Jesus sê vir hulle: “In hierdie wêreld trou die mense met mekaar,

35. maar dié wat waardig geag is om deel te hê aan die toekomstige wêreld en aan die opstanding uit die dood, trou daar nie meer nie.

36. Hulle kan ook nie meer sterwe nie; hulle is soos die engele. Hulle is kinders van God, omdat hulle uit die dood opgestaan het.

37. Dat die dooies opgewek word, het Moses ook aangedui waar hy in die gedeelte oor die doringbos praat van ‘die Here, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob’.

38. Hy is nie 'n God van dooies nie maar van lewendes, want by Hom leef hulle almal.”

39. Toe sê sommige van die skrifgeleerdes: “Meneer, u het goed geantwoord.”

40. Hulle het nie meer gewaag om Hom 'n enkele vraag te stel nie.