Afrikaans 1983

Lukas 18:26-40 Afrikaans 1983 (AFR83)

26. Dié wat dit gehoor het, sê toe: “Maar wie kan dan gered word?”

27. Daarop antwoord Hy: “Wat vir die mense onmoontlik is, is vir God moontlik.”

28. Toe sê Petrus: “Kyk, óns het van ons besittings afgesien en U gevolg.”

29. En Jesus antwoord: “Dit verseker Ek julle: Daar is niemand wat ter wille van die koninkryk van God afgesien het van huis of vrou of broers of ouers of kinders nie,

30. of hy ontvang in hierdie tyd al baiekeer soveel terug, en in die tyd wat kom, die ewige lewe.”

31. Jesus het die twaalf opsy geneem en vir hulle gesê: “Kyk, ons gaan nou Jerusalem toe, en alles wat die profete oor die Seun van die mens geskryf het, sal daar bewaarheid word.

32. Hy sal uitgelewer word aan die heidene; Hy sal bespot en beledig word; hulle sal op Hom spoeg,

33. Hom gesel en Hom daarna doodmaak. En op die derde dag sal Hy uit die dood opstaan.”

34. Maar van hierdie dinge het hulle niks begryp nie. Die woorde was vir hulle duister, en hulle het nie verstaan waaroor Hy praat nie.

35. Jesus het naby Jerigo gekom. Toe 'n blinde man wat daar langs die pad sit en bedel,

36. die groot menigte mense hoor verbyloop, vra hy wat aan die gang is.

37. Hulle vertel hom toe: “Jesus van Nasaret gaan hier verby.”

38. Toe roep hy uit: “Jesus, Seun van Dawid, ontferm U oor my!”

39. Die mense wat voor geloop het, het hom beveel om stil te bly, maar hy het al hoe harder uitgeroep: “Seun van Dawid, ontferm U oor my!”

40. Jesus gaan toe staan en gee bevel dat hy na Hom toe gebring moet word. Toe hy naby kom, vra Jesus vir hom: