Afrikaans 1983

Lukas 17:22-34 Afrikaans 1983 (AFR83)

22. Daarna sê Hy vir die dissipels: “Daar sal dae kom wanneer julle daarna sal verlang om net een van die dae van die Seun van die mens te sien, maar julle sal dit nie sien nie. Hulle sal wel vir julle sê: ‘Kyk, daar is Hy!’ of: ‘Kyk, hier is Hy!’

23. Maar moenie gaan nie en moenie agter hulle aanloop nie!

24. Soos die weerlig wat uitslaan, die hele lugruim van die een kant na die ander verlig, so sal die Seun van die mens kom as die dag van sy koms daar is.

25. Maar eers moet Hy baie ly en deur die mense van hierdie tyd verwerp word.

26. “Net soos dit in die tyd van Noag gegaan het, so sal dit ook gaan in die tyd van die Seun van die mens:

27. hulle het maar soos gewoonlik geëet en gedrink en getrou tot op die dag dat Noag in die ark ingegaan het. Toe kom die sondvloed, en dit het hulle almal uitgewis.

28. In die tyd van Lot het dit ook net so gegaan: hulle het maar soos gewoonlik geëet en gedrink, gekoop en verkoop, geplant en gebou.

29. Maar op die dag toe Lot Sodom verlaat het, het vuur en swael uit die hemel gereën, en dit het almal uitgewis.

30. Net so sal dit ook gaan op die dag wanneer die Seun van die mens verskyn.

31. “Dan moet die man wat op die dakstoep sit, nie ingaan om sy besittings in die huis te gryp nie. Net so moet ook die man wat op die land is, nie omdraai huis toe nie.

32. Onthou wat met die vrou van Lot gebeur het!

33. Elkeen wat sy lewe probeer behou, sal dit verloor, maar elkeen wat dit verloor, sal dit behou.

34. Ek sê vir julle: Dan sal twee mense op een bed slaap, die een sal saamgeneem en die ander een agtergelaat word.