Afrikaans 1983

Lukas 16:5-18 Afrikaans 1983 (AFR83)

5. Toe roep hy die skuldenaars van sy werkgewer een vir een en vra vir die eerste: ‘Hoeveel skuld jy my werkgewer?’

6. Hy antwoord: ‘Honderd vate olyfolie.’ Toe sê hy vir hom: ‘Vat jou skuldbewys, gaan sit en skryf gou vyftig.’

7. Daarna vra hy vir 'n ander een: ‘En jy, hoeveel skuld jy?’ Hy antwoord: ‘Honderd sak koring.’ En hy sê vir hom: ‘Vat jou skuldbewys en skryf tagtig.’

8. “Die werkgewer het die oneerlike bestuurder geprys vir die slim ding wat hy gedoen het. Die mense van hierdie wêreld tree onder mekaar slimmer op as die mense van die lig.

9. “En Ek sê vir julle: Gebruik die oneerlike mammon om vir julle vriende te maak sodat wanneer die geld nie meer kan help nie, hulle julle in die ewige wonings sal ontvang.

10. “Wie in die kleinste dinge betroubaar is, is ook in die groot dinge betroubaar; en wie in die kleinste dinge oneerlik is, is ook in groot dinge oneerlik.

11. As julle dan nie betroubaar is in die hantering van die oneerlike mammon nie, wie sal die ware rykdom aan julle toevertrou?

12. As julle met 'n ander man se goed nie betroubaar is nie, wie sal dan iets aan julle gee om as julle eie te besit?

13. “Geen huisbediende kan vir twee base tegelyk werk nie, want hy sal óf die een minder ag en die ander een hoër, óf vir die een meer oorhê en die ander een afskeep. Julle kan nie God én Mammon dien nie.”

14. Die Fariseërs was baie lief vir geld en toe hulle al hierdie dinge hoor, het hulle Hom beledigend uitgelag.

15. Hy sê toe vir hulle: “Julle is dié wat julle voor die mense as goeie mense voordoen, maar God ken julle harte. Wat deur die mense as belangrik beskou word, is 'n gruwel voor God.

16. “Tot op Johannes was dit net die wet en die profete. Van toe af word die koninkryk van God verkondig, en elkeen probeer so hard as hy kan om daar in te kom.

17. Tog is dit makliker vir die hemel en die aarde om te vergaan as dat een lettertjie van die wet verval.

18. “Elkeen wat van sy vrou skei en met 'n ander een trou, pleeg egbreuk; en iemand wat met 'n geskeide vrou trou, pleeg ook egbreuk.”