Afrikaans 1983

Lukas 15:1-12 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Die tollenaars en sondaars het almal die gewoonte gehad om na Jesus te kom luister.

2. Hierteen het die Fariseërs en die skrifgeleerdes beswaar gemaak en gesê: “Hierdie man ontvang sondaars en eet selfs saam met hulle.”

3. Toe vertel Jesus vir hulle hierdie gelykenis:

4. “Sê nou een van julle het honderd skape en een van hulle raak weg. Wat doen hy dan? Hy laat die nege en negentig in die veld staan en gaan agter die een aan wat weg is, totdat hy hom kry.

5. En as hy hom kry, is hy bly en tel hom op sy skouers.

6. As hy by die huis kom, roep hy sy vriende en bure bymekaar en sê vir hulle: ‘Wees saam met my bly, want ek het my skaap wat weg was, weer gekry.’

7. Ek sê vir julle: Net so sal daar ook in die hemel blydskap wees oor een sondaar wat hom bekeer, eerder as oor nege en negentig mense wat reg doen en nie bekering nodig het nie.”

8. “Of watter vrou wat tien silwermuntstukke het en een raak weg, steek nie 'n lamp op en vee die huis uit en soek sorgvuldig totdat sy dit kry nie?

9. En as sy dit kry, roep sy haar vriendinne en buurvroue bymekaar en sê: ‘Wees saam met my bly, want ek het my geld wat weggeraak het, weer gekry.’

10. Ek sê vir julle: Net so is daar blydskap onder die engele van God oor een sondaar wat hom bekeer.”

11. Verder het Jesus gesê: “Daar was 'n man wat twee seuns gehad het.

12. Die jongste het vir sy pa gesê: ‘Pa, gee my die deel van die besittings wat my toekom.’ Hy het toe die goed tussen hulle verdeel.