Afrikaans 1983

Lukas 13:13-25 Afrikaans 1983 (AFR83)

13. Toe het Hy haar die hande opgelê, en sy het onmiddellik regop gestaan en God begin prys.

14. Die hoof van die sinagoge was verontwaardig omdat Jesus op die sabbatdag iemand gesond gemaak het. Hy sê toe vir die mense: “Daar is ses dae in die week waarop 'n mens moet werk. Julle moet op een van daardie dae kom om julle te laat gesond maak, nie op die sabbatdag nie.”

15. Toe sê die Here vir hom: “Julle huigelaars! Maak elkeen van julle nie op die sabbatdag sy bees of sy donkie van die krip los en lei hom weg om hom te laat suip nie?

16. En hier is 'n vrou, 'n kind van Abraham, wat werklik al agtien jaar lank deur die Satan gebind is. Mag sy dan nie op die sabbatdag van hierdie band losgemaak word nie?”

17. Deur dit te sê, het Jesus al sy teenstanders laat skaam kry, maar die hele skare was bly oor al die wonderbaarlike dinge wat Hy gedoen het.

18. Jesus het gesê: “Hoe is die koninkryk van God? Waarmee kan Ek dit vergelyk?

19. Dit is soos 'n mosterdsaadjie wat iemand gevat en in sy tuin geplant het. Dit het gegroei en 'n boom geword, en die voëls het in sy takke kom nes maak.”

20. Verder het Hy gesê: “Waarmee kan Ek die koninkryk van God vergelyk?

21. Dit is soos suurdeeg wat 'n vrou geneem en in twintig kilogram meel ingewerk het totdat dit heeltemal deursuur was.”

22. Terwyl Jesus op pad was Jerusalem toe, het Hy deur stede en dorpe gegaan en oral die mense geleer.

23. Toe vra iemand Hom: “Here, is dié wat gered word, maar min?”

24. Hy sê vir hulle: “Span al julle kragte in om by die smal deur in te gaan. Baie, verseker Ek julle, sal probeer om in te gaan, maar sal dit nie regkry nie.

25. “As die eienaar van die huis eers opgestaan en die deur toegesluit het, sal julle buite staan en aan die deur begin klop en roep: ‘Here, maak vir ons oop!’ Maar Hy sal julle antwoord: ‘Ek weet nie waar julle vandaan kom nie.’