Afrikaans 1983

Lukas 12:35-49 Afrikaans 1983 (AFR83)

35. “Wees gereed, die heupe omgord en die lampe aan die brand!

36. Julle moet wees soos mense wat vir hulle eienaar wag tot hy van die bruilof af terugkom, sodat hulle dadelik vir hom kan oopmaak as hy kom en aanklop.

37. Gelukkig is die slawe vir wie die eienaar by sy koms wakker sal aantref. Dit verseker Ek julle: Hy sal hulle aan tafel laat sit, self 'n voorskoot aansit en hulle kom bedien.

38. Gelukkig is die slawe wat hy wakker aantref, selfs al sou hy eers om middernag of met hanekraai kom.

39. Maar dit moet julle weet: as die huiseienaar geweet het hoe laat die dief kom, sou hy hom nie in sy huis laat inbreek het nie.

40. Ook julle moet gereed wees, want die Seun van die mens kom op 'n tyd wanneer julle Hom nie verwag nie.”

41. Toe vra Petrus: “Here, is hierdie gelykenis net vir ons bedoel of vir almal?”

42. En die Here antwoord: “Wie is eintlik die getroue en verstandige bestuurder vir wie die eienaar oor sy ander slawe sal aanstel om hulle op tyd hulle kos te gee?

43. Dit is die man vir wie sy eienaar, by sy tuiskoms, so aan die werk sal kry. Gelukkig is hy!

44. Ek sê vir julle die waarheid: Sy eienaar sal hom aanstel oor alles wat hy besit.

45. “Maar as die slaaf by homself sê: ‘My eienaar draai lank om te kom,’ en hy die slawe, mans en vroue, begin slaan, terwyl hy self eet en drink en dronk word,

46. sal die eienaar van die slaaf kom op 'n dag dat hy dit nie verwag nie, en op 'n uur wat hy nie vooraf weet nie. Dan sal sy eienaar hom laat doodmaak, en hom die lot van ontroues laat deel.

47. “Die slaaf wat geweet het wat sy eienaar wil hê maar wat nie gereed gemaak of volgens die wil van sy eienaar gehandel het nie, sal 'n swaar straf kry.

48. Maar hy wat nie geweet het nie en dinge gedoen het wat straf verdien, sal 'n ligte straf kry. Van elkeen aan wie baie gegee is, sal baie geëis word; en van hom aan wie baie toevertrou is, sal meer gevra word.”

49. “Ek het gekom om vuur op die aarde aan te steek, en hoe wens Ek dat dit al aan die brand is!