Afrikaans 1983

Lukas 11:36-43 Afrikaans 1983 (AFR83)

36. As jou hele liggaam verlig is en nie 'n enkele donker plekkie het nie, sal dit heeltemal verlig wees soos wanneer 'n lamp jou met sy skynsel verlig.”

37. Net toe Jesus klaar gepraat het, het 'n Fariseër Hom uitgenooi om by hom te kom eet. Hy het toe in sy huis ingegaan en aan tafel plek ingeneem.

38. Die Fariseër was verwonderd toe hy sien dat Jesus nie die gebruik nagekom het om voor die ete eers hande te was nie.

39. Maar die Here sê vir hom:“Ja, julle Fariseërs! Julle maak die buitekant van bekers en borde skoon, maar binnekant is julle self vol inhaligheid en gemeenheid.

40. Julle dwase! Het Hy wat die buitekant gemaak het, nie ook die binnekant gemaak nie?

41. Gee liewer wat in die bekers en borde is, vir die armes, dan sal alle dinge vir julle rein wees.

42. Maar ellende wag vir julle, Fariseërs, want julle gee tiendes van kruisement en wynruit en elke soort kruie, maar verontagsaam die geregtigheid en die liefde vir God. Juis hierdie dinge moet 'n mens doen en die ander nie nalaat nie.

43. “Ellende wag vir julle, Fariseërs, want julle hou van die ereplek in die sinagoges en om op straat eerbiedig begroet te word.