Afrikaans 1983

Lukas 11:35-54 Afrikaans 1983 (AFR83)

35. Pas dus op dat die lig in jou nie donker is nie.

36. As jou hele liggaam verlig is en nie 'n enkele donker plekkie het nie, sal dit heeltemal verlig wees soos wanneer 'n lamp jou met sy skynsel verlig.”

37. Net toe Jesus klaar gepraat het, het 'n Fariseër Hom uitgenooi om by hom te kom eet. Hy het toe in sy huis ingegaan en aan tafel plek ingeneem.

38. Die Fariseër was verwonderd toe hy sien dat Jesus nie die gebruik nagekom het om voor die ete eers hande te was nie.

39. Maar die Here sê vir hom:“Ja, julle Fariseërs! Julle maak die buitekant van bekers en borde skoon, maar binnekant is julle self vol inhaligheid en gemeenheid.

40. Julle dwase! Het Hy wat die buitekant gemaak het, nie ook die binnekant gemaak nie?

41. Gee liewer wat in die bekers en borde is, vir die armes, dan sal alle dinge vir julle rein wees.

42. Maar ellende wag vir julle, Fariseërs, want julle gee tiendes van kruisement en wynruit en elke soort kruie, maar verontagsaam die geregtigheid en die liefde vir God. Juis hierdie dinge moet 'n mens doen en die ander nie nalaat nie.

43. “Ellende wag vir julle, Fariseërs, want julle hou van die ereplek in die sinagoges en om op straat eerbiedig begroet te word.

44. Ellende wag vir julle, want julle is soos onherkenbare grafte waaroor die mense loop sonder om dit te weet.”

45. Toe sê een van die wetgeleerdes vir Jesus: “Meneer, as u so praat, beledig u ons ook.”

46. Daarop antwoord Hy: “Julle wetgeleerdes! Ellende wag vir julle ook, want julle laai ondraaglike laste op die mense, en self verroer julle geen vinger om die laste te dra nie.

47. “Ellende wag vir julle, want julle bou grafmonumente vir die profete, maar julle voorvaders het hulle vermoor.

48. So bewys julle dat julle die dade van julle voorvaders goedkeur, want húlle het die profete vermoor en júlle bou die grafte.

49. Daarom het Die Wysheid van God gesê: ‘Ek sal profete en apostels na hulle toe stuur, maar hulle sal sommige van hulle doodmaak en ander vervolg.’

50. So is die huidige geslag dan skuldig aan die bloed van al die profete wat vergiet is van die skepping van die wêreld af:

51. van die bloed van Abel af tot by die bloed van Sagaria, wat tussen die altaar en die tempel doodgemaak is. Ja, Ek sê vir julle, hulle bloed sal van die huidige geslag geëis word!

52. “Ellende wag vir julle, wetgeleerdes, want julle het die sleutel van die kennis weggeneem. Self het julle nie ingegaan nie, en dié wat wel wou ingaan, vir hulle het julle verhinder.”

53. Toe Hy uit die huis weggaan, het die skrifgeleerdes en die Fariseërs Hom heftig begin aanval. Oor allerlei dinge het hulle aan Hom strikvrae gestel

54. en fyn opgelet of Hy iets sou sê waarop hulle Hom kon vastrek.