Afrikaans 1983

Job 2:8-13 Afrikaans 1983 (AFR83)

8. Job het op 'n ashoop gaan sit en hy het 'n potskerf gevat en hom daarmee gekrap.

9. En sy vrou het vir hom gesê: “Bly jy nog steeds vroom? Vervloek God en sterf!”

10. Toe sê hy vir haar: “Jy praat nou soos 'n vroumens sonder verstand. As ons die goeie van God aanvaar, moet ons nie ook die slegte aanvaar nie?”Onder alles het Job met geen woord gesondig nie.

11. Drie van Job se vriende het verneem van al die rampe wat hom oorgekom het. Hulle het elkeen van sy eie plek af gekom, Elifas uit Teman, Bildad uit Suag en Sofar uit Naäma. Hulle het afgespreek om deelneming met hom te betuig en hom te troos.

12. Toe hulle hom op 'n afstand sien, het hulle hom eers nie herken nie. Daarna het hulle hardop begin huil, hulle klere geskeur en stof in die lug en op hulle koppe gegooi.

13. Sewe dae en sewe nagte lank het hulle op die grond by hom gesit sonder om 'n woord met hom te praat, want hulle het gesien dat sy smart baie groot is.