Afrikaans 1983

Job 1:12-22 Afrikaans 1983 (AFR83)

12. Toe sê die Here vir die Satan: “Alles wat hy het, gee Ek in jou mag oor. Net aan hom self mag jy nie raak nie.”Die Satan het daarna van die Here af weggegaan.

13. En eendag, toe Job se seuns en dogters besig was om te eet en wyn te drink in hulle oudste broer se huis,

14. kom 'n boodskapper by Job met die nuus: “Die osse was aan die ploeg, en die donkies het langsaan gewei.

15. Toe oorval mense uit Skeba ons en hulle roof alles en maak die slawe dood. Net ek het weggekom om dit vir u te vertel.”

16. Hy was nog aan die praat, toe kom daar nog een met die nuus: “Weerlig het die kleinvee en hulle wagters doodgeslaan en verbrand. Net ek het weggekom om dit vir u te vertel.”

17. Hy was nog aan die praat, toe kom daar nog een met die nuus: “Drie groepe Galdeërs het die kamele geroof en is daarmee weg nadat hulle die slawe doodgemaak het. Net ek het weggekom om dit vir u te vertel.”

18. Hy was nog aan die praat, toe kom daar nog een met die nuus: “U seuns en dogters was besig om te eet en wyn te drink in die huis van hulle oudste broer.

19. Meteens het daar 'n sterk wind van die woestyn se kant af opgekom en die huis van al vier kante af op u kinders omgewaai. Almal is dood. Net ek het weggekom om dit vir u te vertel.”

20. Toe het Job opgestaan en sy klere geskeur. Hy het ook sy hare afgeskeer. Daarna het hy op die grond gaan lê en gesê:

21. “Sonder iets het ek in die wêreld gekomen sonder iets gaan ek daaruit.Die Here het gegee en die Here het geneem.Prys die Naam van die Here.”

22. Onder alles het Job nie gesondig of God iets verwyt nie.