Afrikaans 1983

Jesaja 9:6-16 Afrikaans 1983 (AFR83)

6. Sy heerskappy sal uitbrei, en Hy sal vir altyd vrede en voorspoed bring. Hy sal op die troon van Dawid sit en oor sy koninkryk regeer. Hy sal dié koninkryk vestig en in stand hou deur reg en geregtigheid, van nou af en vir altyd. Daarvoor sal die onverdeelde trou van die Here die Almagtige sorg.

7. Die Here het 'n boodskap gestuur vir Jakob, vir Israel; Hy het hulle aangespreek:

8. Die hele volk, Efraim en die inwoners van Samaria wat so trots en selfversekerd is, moet dit weet. Hulle sê:

9. “Die huise van roustene het wel omgeval, maar ons sal met gekapte klip bou; die wildevyebome is wel afgekap, maar ons sal dit met seders vervang.”

10. Die Here gee aan Resin se teëstanders die oorhand oor hom en hits sy vyande aan.

11. Arameërs uit die ooste en Filistyne uit die weste het vir Israel met een hap verslind. Ondanks dit alles bedaar die toorn van die Here nie; sy hand bly uitgesteek teen hulle.

12. Die volk het hulle egter nie bekeer tot Hom deur wie hulle gestraf is nie, hulle het nie gevra na die wil van die Here die Almagtige nie.

13. Daarom sal die Here vir Israel heeltemal vernietig op een enkele dag; Hy sal kop en stert, palmtak en biesie, afsny.

14. Die leiers en die koning se gunstelinge is die kop,die profete wat leuens verkondig, is die stert.

15. Dié wat die volk moes lei, het hulle mislei,en dié wat gelei moes word, is verwar.

16. Almal is godloos en sleg, elke mond laster teen die Here. Daarom sal selfs die volk se jongmense die Here nie meer vreugde verskaf nie en sal Hy nie langer barmhartig wees oor die volk se weeskinders en weduwees nie. Ondanks dit alles bedaar die toorn van die Here nie; sy hand bly uitgesteek teen hulle.