Afrikaans 1983

Jesaja 9:11-20 Afrikaans 1983 (AFR83)

11. Arameërs uit die ooste en Filistyne uit die weste het vir Israel met een hap verslind. Ondanks dit alles bedaar die toorn van die Here nie; sy hand bly uitgesteek teen hulle.

12. Die volk het hulle egter nie bekeer tot Hom deur wie hulle gestraf is nie, hulle het nie gevra na die wil van die Here die Almagtige nie.

13. Daarom sal die Here vir Israel heeltemal vernietig op een enkele dag; Hy sal kop en stert, palmtak en biesie, afsny.

14. Die leiers en die koning se gunstelinge is die kop,die profete wat leuens verkondig, is die stert.

15. Dié wat die volk moes lei, het hulle mislei,en dié wat gelei moes word, is verwar.

16. Almal is godloos en sleg, elke mond laster teen die Here. Daarom sal selfs die volk se jongmense die Here nie meer vreugde verskaf nie en sal Hy nie langer barmhartig wees oor die volk se weeskinders en weduwees nie. Ondanks dit alles bedaar die toorn van die Here nie; sy hand bly uitgesteek teen hulle.

17. Die goddeloosheid brand soos 'n vuur. Dit verteer dorings en dissels en steek die digte takke van die bos aan die brand, sodat hulle in 'n rookkolom verdwyn.

18. Onder die straf van die Here die Almagtige brand die land weg, die volk het vuurmaakhout geword; die een mens bekommer hom nie oor die ander nie.

19. Elkeen verslind links en regs maar kry nie genoeg nie. So verteer hy sy eie krag.

20. Manasse veg teen Efraim, Efraim teen Manasse, en saam veg hulle teen Juda. Ondanks dit alles bedaar die toorn van die Here nie; sy hand bly uitgesteek teen hulle.