Afrikaans 1983

Jeremia 38:2-10 Afrikaans 1983 (AFR83)

2. So sê die Here: Elkeen wat in hierdie stad woon, sal deur oorlog of deur hongersnood of deur pes omkom, maar elkeen wat oorloop na die Galdeërs toe, sal lewe. Hy sal sy lewe red, al sal hy net met sy lewe daarvan afkom.

3. Die Here het verder gesê: Hierdie stad sal beslis in die mag van die koning van Babel oorgegee word en hy sal dit inneem.

4. Die koning se amptenare het vir hom gesê: “Hierdie man moet doodgemaak word, want hy maak die soldate wat nog in die stad oor is en die hele volk moedeloos deur so met hulle te praat. Hierdie man wil nie die volk help nie, hy wil hulle benadeel.”

5. Toe sê koning Sedekia vir sy amptenare: “Hy is in julle mag, ek kan julle nie keer nie.”

6. Hulle vat toe vir Jeremia en gooi hom in die koning se seun Malkija se put in die binneplaas van die paleiswag. Hulle het vir Jeremia met toue laat afsak in die put waarin nie water was nie, net modder, en hy het in die modder ingesak.

7. Maar Ebed-Melek, 'n Kussiet wat ontman was en in die paleis gewerk het, het gehoor dat Jeremia in die put gesit is. Die koning het toe in die Benjaminpoort gesit,

8. en Ebed-Melek het uit die paleis uit na die koning toe gegaan en vir hom gesê:

9. “U Majesteit die Koning, die mense het die profeet Jeremia sleg behandel: hulle het hom in 'n put gegooi en hy sal daar van honger omkom, want daar is nie meer brood in die stad nie.”

10. Die koning het toe die Kussiet Ebed-Melek beveel: “Vat drie man van hier af saam en trek die profeet Jeremia op uit die put voordat hy sterf.”