Afrikaans 1983

Hebreërs 2:8-18 Afrikaans 1983 (AFR83)

8. U het alles aan hom onderwerp.”By die onderwerping van alle dinge aan die mens is niks uitgesluit nie. Alles is aan hom onderwerp. Nou sien ons nog nie dat alle dinge reeds aan die mens onderwerp is nie.

9. Maar ons sien Jesus, met eer en heerlikheid gekroon op grond van sy lyding en dood. Hy is 'n kort tydjie minder gemaak as die engele, sodat Hy deur die genade van God vir almal sou sterwe.

10. God, ter wille van wie alles bestaan en deur wie alles ontstaan het, wou baie deel laat kry aan sy heerlikheid. En daarom was dit reg dat Hy hulle Leidsman tot die verlossing deur lyding heen tot volmaaktheid sou bring.

11. Hy wat heilig maak, sowel as die mense wat geheilig word, is almal uit een Vader. Om hierdie rede is Jesus nie skaam om hulle sy broers te noem nie.

12. Hy sê tog:“Ek sal u Naam aan my broers bekend maak,in die samekoms van die gemeente sal Ek u lof besing.”

13. Ook sê Hy:“Ek sal altyd op Hom vertrou.”En verder:“Hier is Ek met die kinders wat God My gegee het.”

14. Aangesien hierdie kinders mense van vlees en bloed is, het Hy ook net soos hulle mens geword. Dit het Hy gedoen om deur sy dood dié een wat mag het oor die dood, dit is die duiwel, te vernietig

15. en om hulle wat uit vrees vir die dood hulle hele lewe lank in slawerny was, te bevry.

16. Dit is duidelik dat dit vir Hom nie om die engele gaan nie, maar om die nageslag van Abraham.

17. Daarom moes Hy in elke opsig aan sy broers gelyk word, sodat Hy 'n barmhartige en getroue Hoëpriester voor God kon wees om die sondes van die volk te versoen.

18. Omdat Hy self versoek is en gely het, kan Hy dié help wat versoek word.