Afrikaans 1983

Handelinge 7:27-37 Afrikaans 1983 (AFR83)

27. Maar die een wat met die bakleiery begin het, stamp vir Moses opsy en sê: ‘Wie het jou as ons leier en as regter oor ons aangestel?

28. Wil jy my ook doodslaan, soos jy gister die Egiptenaar doodgeslaan het?’

29. Toe Moses dit hoor, het hy gevlug en 'n bywoner in Midian geword. Dáár is vir hom twee seuns gebore.

30. “Veertig jaar later het 'n engel eendag in die woestyn by Sinaiberg in die vlamme van 'n brandende doringbos aan Moses verskyn.

31. Moses was baie verbaas oor wat hy sien, en toe hy nader gaan om te kyk wat dit is, hoor hy die stem van die Here:

32. ‘Ek is die God van jou voorvaders, die God van Abraham, Isak en Jakob.’ Moses het gebewe en dit nie gewaag om te kyk nie.

33. En die Here sê vir hom: ‘Trek jou skoene uit, want die plek waarop jy staan, is gewyde grond.

34. Die mishandeling van my volk in Egipte het Ek gesien, en hulle gekerm het Ek gehoor. Daarom het Ek gekom om hulle te red. Kom nou nader; Ek wil jou na Egipte toe stuur.’

35. “Dit is dieselfde Moses vir wie die Israeliete nie wou aanvaar nie en vir wie hulle gesê het: ‘Wie het jou as leier en regter aangestel?’ Tog het God juis vir Moses as leier en redder na hulle toe gestuur deur die engel wat in die doringbos aan hom verskyn het.

36. So het dit gekom dat Moses hulle uitgelei het. Veertig jaar lank het hy tekens en wonders in Egipte, by die Rooisee en in die woestyn gedoen.

37. Dit is dieselfde Moses wat vir die volk Israel gesê het: ‘God sal uit julle eie geledere vir julle 'n Profeet soos ek laat voortkom.’