Afrikaans 1983

Handelinge 27:29-36 Afrikaans 1983 (AFR83)

29. Hulle was bang die skip loop op die rotse en het toe vier ankers by die agterstewe van die skip uitgegooi en gewens dit moet dag word.

30. Die matrose wou wegkom van die skip af en het die bootjie in die see neergelaat onder die voorwendsel dat hulle ankers by die boeg van die skip wou laat sak.

31. Paulus sê toe vir die offisier en sy soldate: “As hierdie matrose nie aan boord bly nie, kan julle nie gered word nie.”

32. Toe het die soldate die toue van die bootjie afgekap en hom in die see laat val.

33. Net toe dit begin lig word, het Paulus almal aangespoor om te eet: “Vandag is dit al veertien dae dat julle in spanning wag sonder om iets te eet.

34. Daarom raai ek julle aan om nou te eet. Julle het dit nodig om gered te word. Niemand van julle sal 'n haar van sy kop verloor nie.”

35. Nadat Paulus dit gesê het, het hy brood geneem, God in die teenwoordigheid van almal gedank, dit gebreek en begin eet.

36. Hulle het almal moed geskep en self ook begin eet.