Afrikaans 1983

1 Timoteus 5:11-16 Afrikaans 1983 (AFR83)

11. Jonger weduwees moet jy nie in die lys opneem nie. Hulle liggaamlike begeertes kan hulle daartoe bring om hulle af te wend van Christus af en weer te wil trou.

12. Dan is hulle daaraan skuldig dat hulle hulle vroeëre belofte aan Hom verbreek het.

13. Buitendien leer hulle om hulle tyd te verkwis deur net van die een huis na die ander rond te kuier. Hulle is nie net ledig nie, maar ook bemoeisiek en praatsiek, en hulle praat oor dinge waaroor nie gepraat moet word nie.

14. Daarom verkies ek dat die jonger weduwees weer trou, kinders kry, hulle huise versorg en geen teenstander aanleiding gee om kwaad te praat van ons nie.

15. Daar is reeds party wat agter die Satan aan afgewyk het.

16. As 'n gelowige vrou weduwees in haar familie het, moet sy vir hulle sorg. Sy moet nie die las op die gemeente lê nie, sodat die gemeente die weduwees kan help wat alleen agtergelaat is.