Afrikaans 1983

1 Timoteus 4:1-9 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Die Gees sê uitdruklik dat in die eindtyd sommige afvallig sal word van die geloof. Hulle sal misleidende geeste navolg en die leerstellings van bose geeste aanhang.

2. Hierdie dwaalleraars is skynheilige leuenaars wie se gewete toegeskroei is.

3. Hulle verbied mense om te trou en om bepaalde soorte kos te eet. Maar God het die voedsel gemaak, sodat dié wat glo en tot die kennis van die waarheid gekom het, dit met danksegging kan gebruik.

4. Alles wat God gemaak het, is immers goed. Niks wat met danksegging ontvang word, is verwerplik nie,

5. want dit word deur die woord van God en deur die gebed geheilig.

6. As jy hierdie dinge aan die broers voorhou, sal jy 'n goeie dienaar van Christus Jesus wees wat jouself voed met die woorde van die geloof en die goeie leer waarvan jy 'n aanhanger geword het.

7. Maar van onheilige en sinlose verdigsels moet jy wegbly. Oefen jou liewer om in toewyding aan God te lewe.

8. Om jou liggaam te oefen, het wel 'n bietjie waarde, maar om in toewyding aan God te lewe, het in alle opsigte groot waarde, want dit bevat 'n belofte van lewe, vir nou en die toekoms.

9. Dit is 'n betroubare woord en kan sonder voorbehoud aanvaar word.