Afrikaans 1983

1 Timoteus 1:1-10 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Van Paulus, 'n apostel van Christus Jesus in opdrag van God ons Verlosser en van Christus Jesus ons Hoop.

2. Aan Timoteus, my eie kind in die geloof.Genade, barmhartigheid en vrede van God die Vader en Christus Jesus ons Here!

3. Soos by my vertrek na Masedonië toe, dring ek nou weer by jou daarop aan om in Efese te bly. Daar is sekere mense wat vals leerstellings versprei, en jy moet hulle dit verbied.

4. Hulle moet hulle nie met verdigsels en eindelose geslagsregisters besig hou nie. Sulke dinge gee eerder aanleiding tot twisgesprekke as dat dit die vorming bevorder wat God deur die geloof gee.

5. Die doel van hierdie opdrag is om liefde te wek wat uit 'n rein hart, 'n goeie gewete en 'n opregte geloof kom.

6. Daar is mense wat hiervan afgedwaal het en in 'n vrugtelose gepraat verval het.

7. Hulle wil leermeesters in die wet wees, maar hulle verstaan nie hulle eie woorde of die dinge waaroor hulle so selfversekerd praat nie.

8. Ons weet dat die wet goed is as 'n mens dit op die regte manier gebruik.

9. 'n Mens moet onthou dat die wet nie vir die wetsgehoorsame bedoel is nie, maar vir mense wat hulle nie aan wet en orde steur nie, goddeloses en sondaars, mense sonder eerbied vir wat heilig en gewyd is, dié wat vader of moeder doodmaak, moordenaars,

10. ontugtiges, mense wat homoseksualiteit beoefen, ontvoerders, leuenaars, dié wat meineed pleeg of enigiets anders doen wat met die gesonde leer in stryd is.