Afrikaans 1933-1953

Efésiërs 5:14-24 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

14. Daarom sê Hy: Ontwaak, jy wat slaap, en staan op uit die dode, en Christus sal oor jou skyn.

15. Pas dan op dat julle nougeset wandel, nie as onwyse nie, maar as wyse;

16. en koop die tyd uit, omdat die dae boos is.

17. Daarom moet julle nie onverstandig wees nie, maar verstaan wat die wil van die Here is.

18. Moenie dronk word van wyn nie — daarin is losbandigheid; maar word met die Gees vervul.

19. Spreek onder mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere; en sing en psalmsing in julle hart tot eer van die Here,

20. terwyl julle God die Vader altyd vir alles dank in die Naam van onse Here Jesus Christus,

21. en aan mekaar onderdanig is in die vrees van God.

22. VROUE, wees aan julle eie mans onderdanig, soos aan die Here.

23. Want die man is die hoof van die vrou, soos Christus ook Hoof is van die gemeente; en Hy is die Verlosser van die liggaam.

24. Maar soos die gemeente aan Christus onderdanig is, so moet die vroue dit ook in alles aan hul eie mans wees.