Afrikaans 1933-1953

Efésiërs 4:15-28 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

15. maar, terwyl ons in liefde die waarheid betrag, in alles sou opgroei in Hom wat die Hoof is, naamlik Christus,

16. uit wie die hele liggaam — goed saamgevoeg en saamverbind deur die ondersteuning wat elke lid gee volgens die werking van elke afsonderlike deel in sy mate — die groei van die liggaam bevorder vir sy eie opbouing in liefde.

17. DIT sê en betuig ek dan in die Here, dat julle nie meer moet wandel soos die ander heidene ook wandel in die verdwaasdheid van hulle gemoed nie —

18. mense wat verduisterd is in die verstand en vervreemd van die lewe van God deur die onkunde wat in hulle is vanweë die verharding van hulle hart;

19. wat ongevoelig geword het en hulle oorgegee het aan die ongebondenheid om in hebsug allerhande onreinheid te bedrywe.

20. Maar julle het Christus nie so leer ken nie,

21. as julle ten minste van Hom gehoor het en in Hom onderrig is soos die waarheid is in Jesus:

22. dat julle, wat die vorige lewenswandel betref die oue mens moet aflê wat deur die begeerlikhede van die verleiding te gronde gaan,

23. en dat julle vernuwe moet word in die gees van julle gemoed

24. en julle met die nuwe mens moet beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid.

25. Daarom, lê die leuen af en spreek die waarheid, elkeen met sy naaste, want ons is mekaar se lede.

26. Word toornig en moenie sondig nie; laat die son nie ondergaan oor julle toorn nie;

27. en gee aan die duiwel geen plek nie.

28. Laat die een wat steel, nie meer steel nie; maar laat hom liewer arbei deur met sy hande te werk wat goed is, sodat hy iets kan hê om mee te deel aan die een wat gebrek het.