Afrikaans 1933-1953

Efésiërs 2:4-16 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

4. Maar God, wat ryk is in barmhartigheid, het ons deur sy grote liefde waarmee Hy ons liefgehad het,

5. ook toe ons dood was deur die misdade, lewend gemaak saam met Christus — uit genade is julle gered —

6. en saam opgewek en saam laat sit in die hemele in Christus Jesus,

7. sodat Hy in die eeue wat kom, kan betoon die uitnemende rykdom van sy genade in goedertierenheid oor ons in Christus Jesus.

8. Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God;

9. nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie.

10. Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel.

11. DAAROM, onthou dat julle wat vroeër heidene in die vlees was en onbesnedenes genoem word deur die sogenaamde besnydenis wat in die vlees met hande verrig word,

12. dat julle in dié tyd sonder Christus was, vervreemd van die burgerskap van Israel en vreemdelinge ten aansien van die verbonde van die belofte, sonder hoop en sonder God in die wêreld.

13. Maar nou in Christus Jesus het julle wat vroeër ver was, naby gekom deur die bloed van Christus.

14. Want Hy is ons vrede, Hy wat albei een gemaak en die middelmuur van skeiding afgebreek het

15. deurdat Hy in sy vlees die vyandskap tot niet gemaak het, naamlik die wet van gebooie wat in insettinge bestaan; sodat Hy, deur vrede te maak, die twee in Homself tot een nuwe mens kon skep

16. en albei in een liggaam met God kon versoen deur die kruis, nadat Hy daaraan die vyandskap doodgemaak het.