Afrikaans 1933-1953

2 Kronieke 10:12-19 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

12. Toe Jeróbeam en die hele volk dan op die derde dag by Rehábeam kom soos die koning gespreek en gesê het: Kom na my terug op die derde dag —

13. het die koning hulle ’n harde antwoord gegee; koning Rehábeam het die raad van die oudstes in die wind geslaan

14. en met hulle gespreek volgens die raad van die jongmanne en gesê: Het my vader julle juk swaar gemaak — ék sal daar nog byvoeg; het my vader julle met die sweep getugtig — ék sal julle met gésels tugtig.

15. So het die koning dan nie na die volk geluister nie, want dit was ’n beskikking van God, sodat die Here sy woord sou vervul wat Hy gespreek het deur die diens van Ahía, die Siloniet, tot Jeróbeam, die seun van Nebat.

16. Toe die hele Israel sien dat die koning nie na hulle luister nie, het die volk die koning geantwoord en gesê: Watter aandeel het ons aan Dawid? En daar is geen erfdeel aan die seun van Ísai nie! Elkeen na sy tente toe, Israel! Sorg vir jou eie huis, Dawid! Daarop het die hele Israel na sy tente gegaan.

17. Maar oor die kinders van Israel wat in die stede van Juda gewoon het, oor hulle was Rehábeam koning.

18. Toe stuur koning Rehábeam Hadóram wat oor die dwangarbeid was, maar die kinders van Israel het hom gestenig, sodat hy gesterf het, en koning Rehábeam het hom geweer om op ’n wa te klim, om na Jerusalem te vlug.

19. So het die Israeliete dan afvallig geword van die huis van Dawid tot vandag toe.