Afrikaans 1933-1953

2 Konings 5:1-7 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. EN Naäman, die leërowerste van die koning van Aram, was ’n groot man voor sy heer en hoog in aansien; want deur hom het die Here aan die Arameërs ’n oorwinning gegee; en die man was ’n dapper held, maar melaats.

2. En die Arameërs het in bendes uitgetrek en uit die land van Israel ’n klein dogtertjie as gevangene weggevoer wat in diens van Naäman se vrou gekom het.

3. En sy het vir haar meesteres gesê: Ag, was my heer maar net by die profeet wat in Samaría is, dan sou hy sy melaatsheid wegneem.

4. Toe gaan hy in en gee dit aan sy heer te kenne en sê: So en so het die dogtertjie gespreek wat uit die land van Israel kom.

5. En die koning van Aram sê: Gaan dan, ek wil ’n brief aan die koning van Israel stuur. En hy het gegaan en tien talente silwer en sesduisend sikkels goud en tien stel klere saam met hom geneem,

6. en aan die koning van Israel die brief gebring van die volgende inhoud: Saam met hierdie brief aan u stuur ek dan nou my dienaar Naäman na u toe, dat u sy melaatsheid kan wegneem.

7. Sodra die koning van Israel die brief gelees het, skeur hy sy klere en sê: Is ek dan God, om dood en lewend te maak, dat hierdie man na my stuur om van ’n man sy melaatsheid weg te neem? Erken en sien tog net hoedat hy ’n geleentheid teen my soek.