Afrikaans 1933-1953

2 Konings 4:9-19 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

9. En sy het aan haar man gesê: Kyk tog, ek merk dat dit ’n heilige man van God is wat gedurig by ons verbygaan;

10. laat ons tog ’n klein ommuurde bo-kamer maak, en laat ons daar vir hom ’n bed en ’n tafel en ’n stoel en ’n lamp neersit; wanneer hy dan by ons kom, kan hy daar intrek.

11. En toe hy op ’n dag daar kom, het hy in die bo-kamer ingetrek en daar gaan lê

12. en aan sy dienaar Gehási gesê: Roep hierdie Sunamitiese vrou. Nadat hy haar dan geroep en sy voor hom gaan staan het,

13. sê hy vir hom: Vra haar tog: Kyk, jy het al hierdie sorg aan ons bestee; wat kan daar vir jou gedoen word? Kan daar vir jou ’n goeie woord gedoen word by die koning of die leërowerste? Maar sy antwoord: Ek woon onder my volk.

14. Daarop sê hy: Wat kan daar dan vir haar gedoen word? En Gehási antwoord: Voorwaar, sy het geen seun nie, en haar man is oud.

15. En hy sê: Roep haar. En toe hy haar geroep en sy in die deur gaan staan het,

16. sê hy: Sulke tyd oor ’n jaar sal jy ’n seun omhels. En sy antwoord: Ag nee, my heer, man van God, moenie vir u dienares lieg nie!

17. En die vrou het swanger geword en ’n seun gebaar op daardie tyd oor ’n jaar, soos Elísa met haar gespreek het.

18. Maar toe die kind groot was, het hy op ’n dag uitgegaan na sy vader, na die maaiers,

19. en vir sy vader gesê: My kop, my kop! Dié sê toe vir ’n dienaar: Dra hom na sy moeder.