Afrikaans 1933-1953

2 Konings 17:29-36 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

29. Maar hulle het, elke nasie, sy eie god gemaak en in die tempels van die hoogtes opgestel wat die Samaritane gebou het; elke nasie in hul stede waarin hulle woonagtig was:

30. die manne van Babel het Sukkot-Benot gemaak, en die manne van Kut het Nergal gemaak, en die manne van Hamat het Asíma gemaak,

31. en die Awiete het Nibhas en Tartak gemaak. En die Sefarviete het hulle seuns vir Adramméleg en Anamméleg, die gode van Sefarváim, in die vuur verbrand.

32. Hulle het die Here ook gevrees en vir hulle priesters van die hoogtes uit al hul stande aangestel, wat vir hulle in die tempels van die hoogtes diens doen.

33. Hulle het die Here gevrees en hulle eie gode gedien volgens die gebruik van die nasies waar hulle vandaan weggevoer is.

34. Tot vandag toe handel hulle volgens die vroeëre gebruike: hulle vrees die Here nie, en handel ook nie volgens hulle insettinge en volgens hulle gebruike nie, of volgens die wet en volgens die gebod wat die Here die kinders van Jakob beveel het, aan wie Hy die naam Israel gegee het.

35. Tog het die Here met hulle ’n verbond gesluit en hulle bevel gegee en gesê: Julle mag geen ander gode vrees of julle voor hulle neerbuig of hulle dien of aan hulle offer nie.

36. Maar die Here wat julle uit Egipteland laat optrek het met groot krag en met ’n uitgestrekte arm, Hom moet julle vrees en voor Hom buig en aan Hom offer.