Afrikaans 1933-1953

1 Johannes 4:1-13 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. GELIEFDES, glo nie elke gees nie, maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is, want baie valse profete het in die wêreld uitgegaan.

2. Hieraan ken julle die Gees van God: elke gees wat bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het, is uit God;

3. en elke gees wat nie bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het nie, is nie uit God nie; en dit is die gees van die Antichris waarvan julle gehoor het dat hy kom, en hy is nou al in die wêreld.

4. Julle is uit God, my kinders, en het hulle oorwin, omdat Hy wat in julle is, groter is as hy wat in die wêreld is.

5. Hulle is uit die wêreld; daarom praat hulle uit die wêreld, en die wêreld luister na hulle.

6. Ons is uit God; hy wat God ken, luister na ons; hy wat nie uit God is nie, luister nie na ons nie. Hieruit ken ons die Gees van die waarheid en die gees van die dwaling.

7. GELIEFDES, laat ons mekaar liefhê; want die liefde is uit God, en elkeen wat liefhet, is uit God gebore en ken God.

8. Hy wat nie liefhet nie, het God nie geken nie, want God is liefde.

9. Hierin is die liefde van God tot ons geopenbaar, dat God sy eniggebore Seun in die wêreld gestuur het, sodat ons deur Hom kan lewe.

10. Hierin is die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het en sy Seun gestuur het as ’n versoening vir ons sondes.

11. Geliefdes, as God ons so liefgehad het, behoort ons ook mekaar lief te hê.

12. Niemand het God ooit aanskou nie. As ons mekaar liefhet, bly God in ons en het sy liefde in ons volmaak geword.

13. Hieraan weet ons dat ons in Hom bly en Hy in ons, dat Hy ons van sy Gees gegee het.